gkheidelberglogo

Gebeure FacebookIcon

Kliek op die storie naam hier onder om meer te sien. Om fotos in die stories te besigtig, kliek op 'n fototjie en 'n groter weergawe sal oopmaak.
 
Bydraes met fotos sal verwelkom word van enigeen by nuus@gkheidelberg.co.za.

Sosiale skakeling met GK Ratanda op Saterdag, 25 Augustus

Saterdag middag die 25e Augustus het ʼn groep lidmate van GK Heidelberg weer op sosiale vlak met lidmate van GK Ratanda geskakel. Hierdie keer was dit op Ratanda inisiatief en ons is na hulle kerk genooi. Die kerk in Ratanda het byna vol gesit en daar is meer as 80 mense getel. Ons kon sien hoe trots Ds. Abel was om so baie van hul gemeentelede daar te kon hȇ.

Na opening uit die Skrif het Ds. Abel Modise ʼn kort oorsig gegee van ons gemeentes saam, van die tyd toe Middelande nog nie deel was van GKSA nie, tot vandag, waar alle gereformeerdes nou onder GKSA sambreel gegroepeer word. In die beginjare was Ratanda baie van Heidelberg afhanklik, maar vandag is dit ʼn volwaardige gemeente van GKSA, soos Heidelberg ook is. Ds. Abel noem die interessante, dat ons twee gemeentes die enigste in ons Klassis en Streeksinodes is wat sosiaal met mekaar skakel. Om eerlik te wees, die enigste in die GKSA waarvan ons weet!

Onder leiding van Ds. Abel sing ons toe verskeie psalms en geestelike liedere hartlik saam dat dit weergalm in Ratanda kerkgebou. Dit was wonderlik om die Here te kan verheerlik op so manier. Ratanda se kerksaal het ʼn splinternuwe plafon in en die pragtige teëlvloer rond die gebou binnekant baie mooi af, maar die belangrikste is die bydrae van die plafon met die saal se akoestiek. Wanneer ons luidkeels die Here loof, wieg die mense ritmies saam terwyl party tyd hou met slag-kussings, en dit weergalm letterlik sodat jy maar kan doof wees, want jy voel die vibrasies van die klanke! Ook ʼn groepie van so 10 katkisasie kindertjies kon onder leiding van hulle juffrou vir ons ʼn geestelike lied in Engels sing! Te pragtig hoe ook die heel kleintjies van so 4 - 5 jaar oud ook uit volle bors deelneem.

Oudl. Johan Enslin kry toe geleentheid om darem Ratanda te bedank vir die uitnodiging en die hartlike ontvangs wat ons gekry het, asook die pragtige nuwe plafon wat Ratanda self installeer het. Hy maak toe verskoning vir ʼn paar ander Heidelbergers wat graag daar sou wou wees, maar verhinder is, soos br. Tiaan Kruger en sy gade, Ds. Faan en gesin asook so klompie ander, wat dalk by ʼn volgende geleentheid saam kan wees. Die gesinne van Heidelberg wat wel teenwoordig was, moes maar net harder sing!

Na die dankgebed vir die verversings en vrugtesap/tee moes ons natuurlik afsluit op Ds. Abel se versoek met die erg gereformeerde seënbede van Ps. 134: 3 - 4 en kon ons dankbaar die droë kele natmaak. Die twaalf groot borde versnaperinge was baie lekker om aan te smul terwyl ons kuier en interessanthede van ons verskillende agtergronde uitruil.

Die foto’s gee ʼn beter perspektief, en dit was almal se gevoel dat dit regtig lekker was om God te prys op so ʼn manier. Ons moet dit beslis weer doen en soortgelyk beplan op die jaarprogram vir 2019. Twee maal per jaar is ʼn uitstekende idee.

Ratanda 5
Ratanda 2
Ratanda 1
Ratanda 3
Ratanda 4
Lofsang-met-Heidelbergers
Sangleier-ds-Abel-trots-in-sy-kerk-met-die-mooi-plafon
Lofsang-in-Ratanda
Ratanda 6