Simfonia Juventi Uitvoering - 19 Mei 2018
Op ‘n baie koue herfsaand op 19 Mei 2018 het die gaste opgedaag om te kom luister na die uitvoering van die Simfonia Juventi orkes in die skoolsaal van Hoër Volkskool Heidelberg.
Vooraf is ‘n ete voorgesit en die spyskaart het bestaan uit die volgende uit die onderskeie lande :
Amerika: Botterskorsiesop met Indiese groentekerriepastei
Frankryk: Frans Provinsiale Sampioensop met Baguette en Milkstout Sampioen sauté
Holland: ‘Ertesnert’ (Ertjiesop met gerookte Eisbein) met kaas en ham rolletjies
Suid-Afrika: Biltongsop met Stilbaai se ‘Ouma’-brood en Kaapse Groentesop met gebraaide Pinotage beesskenkel
Mediterreens: Turkse lensiesop met skaapskenkel met marokkaanse heuning en Jogurt platbrood
Die sop is bedien met tartende sjerrie en hartverwarmende muskadel en nageregwyne.
Tydens pouse is koffie en tee bedien met Hollandse gevulde Speculaas (kruie en amandel), Italiaanse Sjokolade Salami (met KWV 3jr) en Tradisionele Melktert.
Daarna is die gaste getrakteer met klassieke musiek wat uitgevoer is deur die Simfonia Juventi orkes. Die orkes is in 1981 gestig en bestaan hierdie jaar uit 102 talentvolle jong musikante afkomstig van tuis- en 29 verskillende skole. Die kriteria vir toelating tot die orkes berus op musikale vermoë asook die vlak van vaardigheid met die spesifieke instrument.Hierdie huidige orkeslede kan gevolglik daarop aanspraak maak dat hulle deur middel van oudisies geselekteer is uit ‘n groot aantal aansoeke en dat die orkesmileu daarom getuig van kundigheid, vaardigheid en talent. Die orkes is vir die eerste keer gelei deur die bekende en gevierde dirigent, Eddie Clayton.
Alle fondse wat verkry is uit hierdie funksie gaan ten bate van die "Koningskinders" -inisiatief wat op die geestelike en sosiale voordeel van minder-bevoorregte kinders uit die Heidelberg gemeenskap gerig is.
Dit was ‘n voorreg om hierdie konsert te kon bywoon en te kon luister na die Godgegewe talent van hierdie groep jongmense.
Ons dank die Here vir al die seëninge wat die gemeente ontvang het met die reël van hierdie funksie en dat alles so mooi en goed afgeloop het.