gkheidelberglogo

Gebeure FacebookIcon

Kliek op die storie naam hier onder om meer te sien. Om fotos in die stories te besigtig, kliek op 'n fototjie en 'n groter weergawe sal oopmaak.
 
Bydraes met fotos sal verwelkom word van enigeen by nuus@gkheidelberg.co.za.

Mary-Anne Green raap toe die Eerste Prys op!

Mary-Anne Green is onlangs tydens die laaste aand van die opvoering "Uit Diep Van Donker Nagte" in Centurion bekroon met die eerste prys van 'n landswye kunskompetisie wat aangebied was om die 500e herdenking van reformasie te vier. Die Kuns- en Letterkundekompetisie is deur Fontein Uitgewery en die Instituut vir Christelike Onderwys onderneem. Stel jou voor die verbasing en trots van die Heidelbergers in die gehoor toe een van ons eie jong lidmate uitgeroep word om die eerste prys te ontvang!

Ons eie Mary-Anne Green skilder al van 2012 af nadat sy opleiding in akriel-skilder ontvang het. In 2016 het sy 'n kursus in olie-verf skilder gedoen en daarna verskeie skilderye geskep van mense, diere en voëls. Soos ons ook reeds gesien het tydens uitstallings gedurende ons Boeremarkte in die verlede. Sy was gereed om die uitdaging van hierdie besondere kunskompetisie te aanvaar en moes toe 'n onderwerp uit die reformasie kies. Watter beter keuse as Martin Luther homself!

Uit die 50 inskrywings in verskeie kategorieë stap Mary-Anne Green toe weg met die eerste prys! Sy het waarlik haar kroon voor Sy troon gewerp, en haar besondere skilder-talent uit Sy hand word pragtig ten toon gestel.

Baie geluk Mary-Anne! Mag die Here jou hand sterk om jou skilder-talent verder te ontwikkel en ons sien uit na die dag wanneer jy groot hoogtes in die kunste bereik.

'n Bietjie agtergrond oor die toneelstuk en wat tot die kompetisie gelei het:

Die skryfster en regisseuse van die opvoering "Uit Diep van Donker Nagte", Ina Opperman, het die stuk reeds vir Aardklop 2001 geskep. Haar inspirasie was Eksodus 35 - 38. Hierdie multi-media produksie is beplan in die krag van die Here, biddend dat Hy ook die projek sal seën en die vrywillige hande en middele sal voorsien, soos Hy wel mildelik gedoen het. So het Ds. Faaan en Sr. Magda Smit drie van hulle kinders in die uiters professionele stuk gehad as akteurs.

Mary-Anne se prestasie vind aanklank in die woorde van Eksodus 36: 1-2 (deel van Ina Opperman se inspirasie):

  1. "So moet dan Besáleël en Ohóliab en elkeen wat kunsvaardig is, in wie die Here wysheid en verstand gegee het om met kennis al die werk tot vervaardiging van die heiligdom te verrig, dit maak net soos die Here beveel het.
  2. En Moses het Besáleël en Ohóliab geroep en elkeen wat kunsvaardig was, in wie se hart die Here wysheid gegee het; elkeen wie se hart hom opgewek het om aan die werk te gaan om dit klaar te maak."

Volgens Ina Opperman is "Uit diep van donker nagte" met dieselfde gesindheid en geloof vir Reformasie 500 aangepak.... in diep dankbaarheid teenoor die Here vir die gewillige harte wat Hy ook in 2017 voorsien het! Die Here se genade is meer as waarvoor ons gevra het!

Sy gaan voort: "Dis vir my 'n persoonlike roeping om die beginsel in reformasie in die kunste te bevorder, juis te midde van soveel ontaarde kuns. Daarom dan ook die kuns- en Letterkundekompetisie wat ons deur Fontein Uitgewery en die Instituut vir Christelike Onderwys onderneem het. Ek glo dat die kunstenaar

  • sy skeppende talent van God ontvang het;
  • sy skeppende talent tot eer en verheerliking van God moet aanwend;
  • eendag voor God verantwoording sal doen oor hoe hy sy talent aangewend het.

Openbaring 4: 10
"en werp julle krone voor Sy troon!"

Soli Deo Gloria!

Mary-AnneMetSkildery
SkilderyMartinLuther